Toe ’n hoërskoolstudent ’n termometer gebruik het om ’n tafel te probeer meet, was sy onderwyser verslae. Gedurende die 15 jaar wat Dave onderwys gegee het, het hy baie tragiese en skokkende dinge gesien. Maar dit het hom werklik geskok om te dink dat ’n hoërskoolstudent nie die verskil tussen ’n termometer en ’n liniaal ken nie. Toe hy my hierdie gebeure vertel het, het my hart gebreek vir daardie student en ander soos hy, wie se onderwys gebrekkig was en wat agtergeraak het ten opsigte van hulle opleiding. Hulle kan nie voortbeweeg, omdat hulle nie die basiese lesse van die daaglikse lewe geleer het nie. Maar toe het ’n ontnugterende gedagte my getref. Doen ons nie soms dieselfde ding wanneer ons verkeerde geestelike maatstawe gebruik nie? Byvoorbeeld, soms dink ons dat kerke met die meeste lidmate en aktiwiteite die meeste deur God geseën word. En dat populêre predikers wat groot skares trek, meer toegewyd is as dié wat in klein gemeentes arbei en vir min mense die evangelie bedien. Die korrekte maatstaf vir ons geestelike toestand, is die kwaliteit van ons lewens en dit word gemeet aan standaarde soos nederigheid, deernis en geduld. “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde” (Efes. 4:2). Indien ons hierdie eienskappe openbaar, is dit ’n teken dat ons groei na die doel wat God vir ons het: “So volmaak en volwasse soos Christus” (vs. 13).