Toe Jack Borden 101 jaar oud geword het, het hy die oggend 05:00 wakker geword, vroeg opgestaan, ’n heerlike ontbyt genuttig en om 6:30 was hy in sy kantoor en gereed om sy werk te begin. Toe iemand hom die geheim van sy lang lewe gevra het, het hy met ’n glimlag geantwoord: “Ek gaan nie dood nie.” Maar die antwoord is meer gekompliseerd. Op die ouderdom van 11 jaar is hy in die Clear Fork kerk gedoop en jare later het hy aan Dave Casstevens die verslaggewer van die Star Telegram nuusblad in Fort Worth Texas gesê: “Ek glo vas dat God sy hand op alles het, en Hy het ’n rede waarom Hy my laat lewe. Ek probeer die dinge doen wat ek glo Hy wil hê ek moet doen.” Esra het ook ondervind dat “die goeie hand van sy God op hom was” toe hy ’n afvaardiging na Jerusalem gelei het om daar geestelike leierskap te bied vir die mense wat besig was om die stad en die tempel te herbou (Esra 7:9-10 OV). Esra het krag geput uit die wete dat die Here God by hulle was in alles wat hulle gedoen het en moes doen. “Ek was vol moed. Die Here my God het sy hand oor my gehou. Ek het toe die leiers onder die Israeliete bymekaar laat kom om saam met my te trek” (Esra 7:28). As ons die Here se hand duidelik in ons lewens sien, dan wil ons opreg “dankie” sê. Dan het ons ook die begeerte om Hom steeds meer en beter te dien en te doen wat Hy vra.