Vyfjarige Jenna se dag het nie goed begin nie. Alles wat sy probeer het om sake volgens haar wil te laat gebeur, het misluk. Redenasies het nie gehelp nie, ook nie om nukkerig te wees en te huil nie. Nee, niks wou help nie. Toe het haar mammie haar aan die Bybelteks wat sy die oggend in Engels gelees het, herinner: “Your Word have I hidden in my heart, that I might not sin against You” (Psalm 119:11). Skynbaar het Jenna die teks onthou en daaraan gedink, want sy het gou reageer: “Ja Mamma, maar die teks sê nie dat ek nie sal sondig nie, maar dat ek miskien nie sal sondig nie.” Haar woorde is vir ons almal so bekend. Ons redeneer dikwels ook so. Daar is iets so aantreklik in verband met skuiwergate, gate waardeur ons kan glip as ons iets nie graag wil doen nie, veral as ons nie ’n opdrag wil gehoorsaam nie. Jesus het die godsdienstige leiers van sy tyd aangespreek, hulle wat gedink het dat hulle skuiwergate vir hulle godsdienstige wette gevind het (Markus 7:1-13). In plaas van om eerbied aan hulle ouers te betoon en vir hulle te sorg, het hulle al hulle besittings aan God gegee, om so hulle verpligtinge na te kom. Hierdie optrede was vir Jesus onaanvaarbaar en Hy het hulle daaroor aangespreek. Wanneer ons as Christene begin om skuiwergate te soek, maniere om God se wette te omseil, dan is ons op gevaarlike terrein.