Lauren was gespanne, tog opgewonde, toe sy haarself in die Eskimobootjie laat vasgespe om saam met ’n klompie ander riviervaarders en hulle gidse die rivier aan te durf. Toe Lauren die watervalle verder af in die rivier sien, het sy nog meer senuagtig en bang geword. Toe, meteens, het die Eskimobootjie omgeslaan. Sy is vooraf ingelig wat sy moes doen, indien dit gebeur, maar sy het disoriënteerd geraak toe sy onderstebo in die water gehang het en kon nie die staaf kry wat sy moes trek om los te kom nie! Sy het besef dat sy nie haar asem veel langer sou kon inhou nie en het verwag dat sy binnekort in die teenwoordigheid van die Here sou wees. Hulp het egter net betyds opgedaag, ’n gids het haar gehelp en sy is gered. Lauren was so dankbaar dat sy van die fisiese dood gered is! ’n Veel groter redding is vir ons beplan – redding van die geestelike dood. Dié redding het gekom deurdat ons Here Jesus Christus vir ons gesterf het. Terwyl ons besig was om in sonde te verdrink, het God die Vader sy Seun Jesus gestuur om vir ons, deur sy dood en opstanding, die lewe te bring (Romeine 5:8; Efesiers 2:5). Hy het dit gedoen omdat Hy “ryk is in barmhartigheid” en innig lief is vir ons (Efesiers 2:4,5). Uit dankbaarheid kan ons ook aan ander vertel van Hom, die Redder, wat hulle so dringend nodig het en wat hulle van die ewige dood kan red.