Die somer is my geliefkoosde seisoen. Ek hou van die rustige dae wanneer ek soms party van my normale roetines kan laat vaar, sonder om skuldig te voel. Om nuwe dinge te doen, nuwe plekke te sien en myself tyd te gun om die natuur te besigtig, vernuwe my gees en herstel my entoesiasme vir lewe en werk. Die somer kan egter ook ’n gevaarlike tyd wees omdat sekere gewoontes verbreek word. Daar is goeie roetines wat ons effektiwiteit vermeerder en verseker dat belangrike sake die nodige aandag geniet. Ons moet immers vaste reëlmaat hê ten opsigte van sekere optredes, anders sal die wêreld in chaos eindig. Die skepping is immers so beplan dat daar ’n tyd vir eet, ’n tyd vir werk en ’n tyd vir slaap is. Tog hoor ons soms waarskuwings dat daar gewaak moet word dat roetines in groewe beland. Nogtans dui die Bybel aan dat om ’n spesifieke tyd vir spesifieke sake te hê, noodsaaklik is. Dawid sê dat die oggend vir hom die regte tyd is om die Here te loof en sy leiding te vra (Psalm 5:3; 143:8). En Daniël het drie keer per dag gebid en nie eers die dreigement van die doodstraf, kon hom daartoe bring om sy roetine te verbreek nie (Daniël 6:10). Terwyl ons sorgelose dae deurbring, moet ons waak dat ons nie nalaat om tyd met ons Here Jesus deur te bring nie. Om geestelike voedsel te bekom, is roetine vir elke seisoen van die lewe. –Julie Ackerman Link