Dis baie moeilik om Christene aanstoot te gee. Van nature is Christene baie vergewensgesind, begrypend en bedagsaam, ja, die mees bedagsame groep mense waarmee ek nog ooit te doene gehad het. Hulle verwag nooit die slegste nie. Hulle verstaan dat mense verskillende perspektiewe mag hê. Hulle word nie gou kwaad, vergewe maklik en tree nooit hals oor kop op nie, trouens alles wat hulle doen word in die gees van liefde gedoen … Maar wag, ek praat nie van Christene nie, maar van ‘golden retrievers’! Ek het gelag toe ek hierdie epos gelees het. Ek het reeds ondervinding met goldens gehad en ook met Christene en ek dink dis waar dat mede-Christene te maklik aanstoot neem. “Die koorafrigter gee altyd aan haar die solo’s!” “Die pastoor het nie eers na my gekyk toe hy my hand geskud het nie.” “Ek doen so baie in die gemeente. Behoort meer waardering te kry!” Woede, gekrenktheid, hoogmoed. Ja, probleme tussen gelowiges moet soms aangespreek word. Maar sê nou maar ons sou ander altyd behandel soos ons graag behandel wou word (Matteus 7:12), nie so gou wees om ander te kritiseer nie, maar hulle eerder vergewe (Lukas 6:37), en ’n bietjie ware nederigheid openbaar? (Filippense 2:3). En hoe wonderlik sou dit wees as die wêreld regtig aan ons as Christene kon sien dat ons liefde vir mekaar het (Johannes 13:35). Ek wonder, is dit waar van ons?