Toe ek verneem dat Dawid in die kantoor was vir ’n bestuursvergadering, was ek opgewonde. Ons het ’n goeie, gemeenskaplike vriendin gehad, Sharon, wat ’n paar jaar tevore oorlede is. Ons het dus ’n paar minute tyd gehad om oor haar na te dink en te gesels oor haar lewe en haar liefde vir die Here. Hoe heerlik om met iemand kontak te maak wat iemand geken het wat julle albei liefgehad het. Daar’s ’n spesiale band, want dis aangenaam om oor ’n geliefde persoon te praat. Diegene wat Jesus as Verlosser ken, het intiemer bande met mekaar. Ons is vir ewig aan Hom en aan mekaar verbonde. “Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar” (Romeine 12:5). Ons is “uit God gebore” en daarom het ons die ander lief “wat kinders van die Vader is” (1 Joh. 5:1). Wanneer ons met ander Christene byeenkom, het ons die geleentheid om met mekaar oor Jesus te praat, die Een vir wie ons lief is. Ons kan vertel van sy liefde en vergifnis en die genade wat ons deur sy dood en opstanding ontvang het (1 Johannes 4:9,10). By sulke geleenthede kan ons mekaar bemoedig om steeds op die Here te vertrou en om in gehoorsaamheid aan Hom te lewe. Kom laat ons hierdie komende Sondag en dwarsdeur die week mekaar aan Jesus herinner, sy wonderlike liefde en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.