“Dink hoe goed dit sal voel as dit nie meer seer is nie,” het my pa altyd gesê wanneer ek ’n val gehad het of my seergemaak het en redelik onsteld daaroor was. In daardie stadium het sy advies nie regtig gehelp nie. Ek was nie in staat om op iets anders as die seer te fokus nie en harde gehuil en emmersvol trane was my reaksie. Deur die jare egter het my pa se advies my deur talle moeilike situasies gedra. Of dit nou ’n teleurstelling, ’n gebroke hart of die ellende van ’n lang siekbed was, ek kon myself altyd daaraan herinner: Nou is nie vir altyd nie. Die vertroue wat ons as Christene het, is die wete dat die Here iets goeds vir ons beplan. Lyding was nie in God se oorspronklike skeppingsdoel teenwoordig nie, maar dit dien tans as ’n tydelike waarskuwing en ’n herinnering aan wat gebeur in ’n wêreld waar God se doelstellings geïgnoreer is. Dit motiveer ons om die boodskap uit te dra dat God beplan om die wêreld eendag volkome uit die greep van sonde en ongeregtigheid te bevry. Alhoewel ons dus nie nou die seer en teleurstellings (Johannes 16:33) van hierdie ou wêreld kan vryspring nie, kan ons weet dis net tydelik. Sommige hartseer sal in hierdie lewe al weggeneem word, maar alle lyding sal eendag, wanneer God sy nuwe hemel en sy nuwe aarde tot stand bring, verwyder word. (Open. 21:1) Onthou, liewe Vriend, nou is nie vir altyd nie.