Onlangs was ek in ’n besige winkelsentrum toe ek ’n vrou gesien het wat haar pad tussen die mense deur oopgebaan het. Sy het ’n T-hemp aangehad waarop die volgende woorde verskyn het: DIT GAAN ALLES OOR MY. Haar optrede het die waarheid van hierdie woorde bevestig. Ek is bevrees sy is nie alleen nie. Daardie boodskap word vandag deur so baie mans en vroue uitbasuin dat ons dit byna die slagspreuk van die moderne eeu kan noem. Vir volgelinge van Christus is daardie woorde eenvoudig nie waar nie. Dit gaan nie in die eerste plek oor ons nie – dit gaan oor Jesus Christus en ons medemense. Paulus was baie bewus van hierdie realiteit en gevolglik was hy baie besorg oor sy mede-Israeliete en veral dat hulle God moes ken. Hy sê: “Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees” (Rom. 9:3). Dit is ’n besondere uitspraak! In plaas van om aan homself te dink, verklaar Paulus dat hy die ewigheid sou prysgee ter wille van hulle, as hulle gered kon word. Paulus se lering is ’n verfrissende herinnering aan selfverloëning in ’n uitdagende wêreld waar almal net daarop uit is om hulle eie belange te bevorder. Die vraag wat ons aan onsself moet stel is dit: Gaan dit alles oor my? Of gaan die lewe oor Jesus en die ander mense vir wie Hy gekom het en wie Hy wil red? Dink ’n bietjie daaroor na! Waaroor gaan dit alles?