Gedurende ’n navorsingsbesoek aan Duitsland was ek teleurgesteld om te hoor dat ek in ’n klooster sou tuisgaan. Ek het my ’n somber plek voorgestel, sonder enige verhitting, koue klipvloere en harde beddens. Tot my groot verbasing is ’n warm gemaklike kamer vir my gereedgemaak. My kollega het aan my gesê: “Die monnike glo dat hulle altyd hulle besoekers moet behandel soos wat hulle Christus sou behandel.” Alhoewel hulle nie self in sulke gemak leef nie, is hulle tevrede. Robert Herrick, ’n 17de eeuse Engelse digter, het die volgende gedig geskryf: Christus, verwag steeds, waar Hy ook al kom Om te eet of loseer, die beste kamer vir Hom. Gee Hom die keuse; gee Hom die beste deel van die hele huis: die hart word aanbeveel. Dit mag makliker wees om Jesus in ons hart te verwelkom as om ons lewe vir ander mense oop te maak. Of dit ’n kamer in jou huis, of ’n paar oomblikke van jou tyd is, veels te dikwels behandel ons mense as indringers in plaas van as gaste. Die apostel Petrus skryf: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien” (1 Petrus 4:9,10). Ons bewys eerbied aan Christus wanneer ons aan Hom die beste kamer, ons hart, gee en gasvryheid en liefde aan ander mense betoon.