Toe ek vir my bestuurderslisensie gegaan het, het die instrukteur oor en oor aan my gesê: “Kyk vorentoe.” Dit was sy manier om vir my te sê dat ek op die horison moes fokus en nie op die onmiddelike omgewing nie. Bestuurders wat voortdurend na regs en links kyk, kan maklik in ’n sloot beland. Satan is baie goed toegerus om “die aandag af te lei” en ons te dwing om na hom in plaas van na Jesus te kyk. Indien hy ons aandag kan verkry, kan hy daarin slaag om ons van koers af te dwing en sodoende ons geestelike groei en vordering vertraag. Hy het dit selfs met Jesus ook probeer! Nadat Jesus gedoop is en in die woestyn was, het Satan probeer om Hom van koers af te bring deur voor te stel dat Hy kon bewys Hy’s die Seun van God deur Homself van die tempeldak af te werp (Lukas 4:9-11). Maar Jesus het geweet die bewys dat Hy God se Seun is, moet aan die kruis getoon word en nie deur Homself van ’n hoë gebou af te werp nie. Hy het geantwoord: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie” (Lukas 4:12). Jesus se oë was op die kruis gevestig en Hy het geweet Hy kan nie kortpad of ompad neem nie. Die manier waarop ons uit geestelike slote en vangplekke bly, is deur ons oë op Jesus gevestig te hou (Hebreërs 12:2). Ons moet weier om selfs eers in Satan se rigting te loer en na sy influisteringe te luister.