Op ’n onlangse vlug het ek my voorgeneem om ’n bietjie werk af te handel. Voor my was my skootrekenaar, iPod en ander toestelle waarmee ek, as ’n 21ste eeuse “padwerker”, wou werk. Terwyl ek besig was om te werk het ’n jongman wat langs my gesit het, gevra of hy ’n opmerking kon maak. Hy sê toe hoe dit hom, as ’n jongman, inspireer om te sien dat iemand van my ouderdom so entoesiasties is om al die moderne tegnologië onder die knie te kry. Ten spyte van die feit dat hy sy opmerking as ’n kompliment bedoel het, het ek meteens 120 jaar oud gevoel. Wat het hy bedoel met iemand van my ouderdom? Ek was immers maar net 57 jaar oud! Toe het ek aan Psalm 71 gedink, die Psalm wat spesifiek vir mense van “my ouderdom” en ouer geskryf is. Dit herinner ons aan die belangrikheid van ’n lewe wat positief geleef is en aan die waarde van al die lesse wat ons geleer het. Lesse is nie net vir ons bedoel nie, maar ook sodat ons dit kan deurgee na die volgende geslag. Hy skryf: “Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie … dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag” (Psalm 71:18). So miskien is die term iemand my ouderdom darem nie so ’n slegte benaming nie. Dis die voorreg van die ouer Christen, die veteraan, om aan jonger gelowiges te vertel van die almag en genade van God. So kan ons hulle inspireer!