In sy boek Crazy Love vertel Francis Chan van ’n familie wat ’n baie interessante Kersgewoonte gehad het. Op Kersoggend het die Robynson familie nie by ’n kersboom kersgeskenke oopgemaak nie, maar in plaas daarvan pannekoek gebak en dit saam met warm koffie aan die armes in die omgewing bedien. Dis ’n geringe maar tog treffende manier om God se liefde en vrygewigheid aan die armes te betoon. Die Here het hierdie tipe vrygewigheid van sy kinders verwag. In Deuteronomium 15 beklemtoon Moses die realiteit van armoede en hoe die bevoorregtes daarteenoor moet optree. Hulle word gewaarsku dat daar vier gevare bestaan: ’n Harde hart wat die nood van behoeftiges verontagsaam (vs. 7). ’n Geslote Hand. Moenie suinig wees en nalaat om dié wat nood het, te help (vs.7) Moenie sondige gedagtes herberg en weier om diegene wat om hulp vra by te staan, skuld af te skryf omdat die jaar van afskrywing op hande is nie (vs. 9). Moenie sleg voel omdat jy gegee het, want die Here sal jou voorspoedig maak (vs.) 10. Dis saliger om te gee as om te ontvang. Die Here het die volk gewaarsku teen selfsugtigheid en hulle aangemoedig om met blymoedigheid te gee. Dan sou Hy hulle voorspoedig maak (vs.10). Dis belangrik dat daar altyd ’n gees van vrygewigheid by Christene sal wees. Ons mag nie ons oë vir die armes sluit nie. Kom ons open ons harte en hande.