Kort nadat ons na ’n woonhuis in ’n nuwe omgewing verhuis het, het ons my skoonsuster en haar man vir Sondag middagete oorgenooi. Toe ons Sue en Ted by die voordeur groet, het ’n eienaardige geluid hulle oë in die rigting van die kombuis laat draai. Ek het omgekyk en verstyf van skok. Ons stokou draagbare skottelgoedwasser se uitlaatpyp het heen en weer geswaai, soos die slurp van ’n olifant, en water in alle rigtings gespuit. Sue het onmiddellik in beweging gekom, haar handsak laat val, na die kombuis gehaas, die kraan toegedraai en lappe en ’n poetsbesem gevra. Ons het die eerste 15 minute van hulle besoek op ons knieë deurgebring, besig om water op te vee. Sue is ’n dader – en die wêreld sal ’n beter plek wees as daar meer daders is. Hulle is die mense wat altyd gereed is om in te gryp, betrokke te raak en te doen wat nodig is. Hulle is selfs bereid om die leiding te neem, indien nodig. Baie van die daders van die wêreld is ook daders van die Woord. Hulle is die volgelinge van Jesus wat die uitdaging van Jakobus ter harte geneem het: “Julle moet doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself “ (Jakobus 1:22). Is jy besig om alles te doen wat jy weet die Here van jou verwag? Terwyl jy die Woord van God lees, voer God se opdragte uit. Hoor dit en doen dan! God se seën kom as ons gehoorsaam is (vs. 25).