Die botterblommetjies in ons agterplaas was besonder mooi en kleurvol na die goeie lentereëns wat die Here na ons gestuur het. Ek wou ’n paar foto’s van hulle neem voordat hulle verwelk, maar ek het gesukkel om naby genoeg te kom, want hulle het in ’n besondere modderige area gegroei. Een sonnige middag het ek ’n paar stewels aangetrek en deur die doringstruike na die botterblommetjies gestap. Maar voordat ek nog ’n enkele foto geneem het, was my voete al nat, en het ek heelwat skrape en insekbyte opgedoen. Maar om die botterblomme van naby te sien, het al die negatiewe dinge die moeite werd gemaak. Die lewe bestaan grotendeels uit worsteling en stryd om deur moeilikhede en beproewinge, wat deel van hierdie wêreld is, te kom. Een van hierdie probleme is vervolging. Die dissipels het dit regtig beleef. Hulle het geweet van al die wonderlike dinge wat Jesus belowe het, maar hulle was ook bewus van die teenkanting wat ingetree het, wanneer hulle dit met ander wou deel (Handelinge 14:5). Diegene wat God se weg gekies het en uit ondervinding weet dat daar beter “genadegawes” (1 Korintiërs 12:31) is, sal volhard, al moet hulle deur baie stryd en beproewing deurgaan. Deur dit te doen, toon ons aan ander die pragtige prentjie van God se genade, liefde en vergifnis. Die vreugde wat wag, sal ons tydelike ongemak en beproewing die moeite werd maak.