Op die 19de Oktober 2008 het ek die nuus verneem dat Levi Stubbs oorlede is. Hy was die voorsanger van The Four Tops sanggroep van Motown en as jong seun het ek hulle musiek baie geniet. Stubbs was 72 jaar oud en ’n emosionele sanger. Ek het hom nooit ontmoet of een van sy konserte persoonlik bygewoon nie, maar die nuus het my diep geaffekteer. Wat my hartseer vererger het, was die wete dat ek self besig was om ouer te word. Die dood van iemand na wie ek geluister het toe ek ’n kind was, het my daaraan herinner dat die tyd verby snel – ja dit gaan verby! In die enigste Psalm wat aan Moses toegeskryf is, sê hy: “Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby” (Psalm 90:10). Dis nie woorde wat die gemiddelde mens graag wil hoor nie. Ons wil mos vir altyd jonk en lewenskragtig bly. Maar die Bybel waarsku ons dat die jare verbygaan en dat die dood verseker kom. Dit laat ons met twee baie belangrike vrae waarmee ons moet worstel: Is ek gereed om heen te gaan aan die einde van my lewe? Het ek Jesus Christus as my Verlosser aangeneem? Is ek besig om my dae wat so vinnig verbysnel te gebruik om Hom te behaag, die Een wat vir my gesterf het en my ewig liefhet? Hoe vaar jy, my vriend? Ongeag jou ouderdom is jy gereed om die uitdagings die hoof te bied, want die lewe is kort.