John Steinbeck se novelle, The Grapes of Wrath waarvoor hy die Pulitzer toekenning verower het, begin met ’n toneel in die droogtegeteisterde Oklahoma gedurende die groot depressie. Die oeste op die lande was besig om te verdroog en stof het oral opgestyg. Die vroue het hulle mans angstig dopgehou om te sien of hulle die krisis sou kon hanteer. Toe hulle bemerk dat die manne nie moed opgee nie, maar volhard, het hulle ook moed geskep. Steinbeck skryf: “Die vroue en kinders het geweet dat geen beproewing te swaar sou wees, solank as die manne maar net heel kon bly.” Die probleem was nie geluk, voorspoed of tevredenheid nie, maak om heel te bly (Engels whole). In die ou King James uitgawe van die Bybel word die woord whole dikwels gebruik om Jesus se werk van fisiese genesing uit te beeld. Toe die Here die man wat vir 38 jaar siek was teëgekom het, het Hy hom gevra: “Wil jy gesond word (King James: be made whole)?” Nadat Jesus die man genees het, het Hy hom ook uitgedaag om geestelike heling na te jaag sodat hy whole (geestelik gesond) kon wees. Hy beveel hom: “Moet nou nie meer sonde doen nie sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie” (Johannes 5:14). As ons net verlang na iets wat Jesus vir ons kan doen, sal ons verhouding met Hom altyd skraal wees. Maar as ons Hom persoonlik in ons lewe wil hê, sal Hy ons heel (volkome) maak.