Tydens die gedenkdiens vir David Holquist, het die prediker uit Lukas 18, oor die kinders, voorgelees. Dit was nogal ongewoon, aangesien Holquist 77 jaar oud was, toe hy gesterf het. Nogtans het die prediker gesê dat die woorde uitstekend op David van toepassing was. Hy was vir jare professor en ’n deel van sy nalatenskap was dat hy so baie tyd vir kinders gehad het – sy eie en ander mense s’n. Hy het vir hulle poppies gemaak en ’n poppekas by die kerk hanteer. Wanneer hy dienste vir belangrike geleenthede voorberei het, het hy altyd gevra: “Maar wat van die kinders? Wat doen ons vir hulle?” Hy was besorgd oor hoe kinders die Here sou aanbid en nie net die volwassenes nie. Lukas 18 wys ons daarop dat Jesus ook ’n spesiale plekkie vir kinders gehad het. Toe mense kinders na Jesus wou bring, wou die dissipels hulle verhinder omdat hulle gevoel het die Here is moeg en die kinders sou lastig wees. Maar dit lyk nie asof Jesus deur die kinders gepla is nie. Inteendeel, die Bybel sê Jesus was “verontwaardig” omdat die dissipels die kinders wou verhinder. Hy sê:“Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie” (Lukas 18:16). Markus voeg by dat Jesus hulle “die hande opgelê” en hulle geseën het. Kom ons bekyk ons houding teenoor kinders en volg dan die voorbeeld van David Holquist. Kom ons vind maniere om hulle na Jesus te lei.