Voordat die klein arendjies nog ’n week oud was, het hulle al begin stoei om kos in die hande te kry. Nie een van die twee was al sterk genoeg om hulle koppies vir meer as ’n paar sekondes orent te hou nie en dus het hulle maar redelik snaaks gelyk – twee harige balletjies met koppe wat heen en weer kantel. Maar die oomblik wanneer die ouers kos aangebring het, het die groter een van die twee sy broer begin pik om te voorkom dat hy selfs een happie van die kos te ete kry. Sy aggressie sou verstaanbaar gewees het, as die kos skaars was, of as die ouers nie in staat was om genoeg kos te voorsien nie, maar niks was verder van die waarheid as dit nie. Die arendjies het visse groter as hulleself te ete gekry en daar was meer as genoeg vir albei. Die vraatsugtige arendjie het my aan ons mense laat dink – ons eie dwaashede wat opduik wanneer ons probeer om iets van iemand anders vir onsself te bekom (Jakobus 4:1-5). Konflik ontstaan wanneer ons iets wil hê wat die Here aan iemand anders gegee het, ’n vriend, familielid of buurman. In plaas van om die Here te vra vir wat ons nodig het, probeer ons iets van iemand anders afneem (vs. 2). Maar die Here het vir elkeen van ons iets goeds bedoel. En ons het beslis nie nodig om ander seer te maak om te kry wat ons nodig het nie. Ons kosbare Hemelse Vader het meer as genoeg vir elkeen van ons.