Toe Charles Howard in Mei 2009 oorlede is in die ouderdom van 87 jaar, het hy ’n besondere nalatenskap aan sy vrou en kinders nagelaat. Hy en sy vrou het vir baie jare getrou as sendelinge in Indië en Suid-Afrika gewerk. Maar op die ouderdom van 73 jaar, het hy begin om Skrifgedeeltes te memoriseer, sodat hy “goed” kon eindig, met sy gedagtes vol van God se Woord. Hy het sy projek, The Whole Bible Memorization Plan genoem. Sy kinders het dit egter “Charlie se Lys” gedoop. Charlie het ’n teksvers as tema gekies (Kolossense 3:16) en daaraan toegevoeg ten minste een vers uit elke Ou Testamentiese boek en ’n strofe of twee uit elke hoofstuk van die Nuwe Testamentiese verhalende boeke en skrifgedeeltes uit elkeen van die Nuwe Testamentiese sendbriewe. Hy het met Genesis 15:6 begin: “Abram het in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so … gehandel het,” en geëindig met Openbaring 22:17: “Elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” Charlie het altesame 239 teksverse aangeleer. Hy herinner my aan die digter wat gesê het: “Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U” (Psalm 119:11). Net soos Charlie het die psalmdigter oor God se Woord gemediteer en vreugde daarin gevind (verse 15,16). Watter beter doel kan ons hê as om ons denke met die Woord van God te vul.