In een van Joe Morgenstern se weeklikse rubrieke in die Wall Street Journal, waarin hy oor rolprente verslag doen, verwys hy na die impak wat beroemde akteurs in intieme situasies het – situasies wanneer hulle hoegenaamd niks sê nie. “Filmsterre kan so min sê in kritieke situasies” skryf hy, “omdat hulle reeds ons respek in vorige tonele afgedwing het. Hulle weet dat ons aandag skenk.” Hierdie kwaliteit van kragtige stilswye wat ons soms in akteurs bewonder, kan nogal frustrerend wees in ons verhouding met God. Dis vir ons teleurstellend as die Here net swyg. Toe Lasarus, ’n goeie vriend van Jesus, ernstig siek geword het, het sy twee susters, Marta en Maria, dadelik vir Jesus laat roep. Maar “nadat Hy [Jesus] gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae gebly op die plek waar Hy was (Johannes 11:6). In ’n kommentaar oor hierdie gedeelte skryf Oswald Chambers: “Het God jou vertrou met ’n stilte – ’n stilswye wat ryk is aan betekenis? … Dink aan daardie dae van absolute stilte in die huis in Betanië! Is daar ooreenstemming in jou situasie met wat in daardie huis gebeur het? … Sy stilswye is die teken dat Hy besig is om jou na ’n wonderlike begrip van Homself te lei … As God aan jou ’n tydperk van stilte gegee het, prys Hom, want Hy is besig om sy doel te bereik.” Ons kan ons liefdevolle Here vertrou, ja, selfs al swyg Hy.