In sy preek getitel Wat is die rede waarom agteruitgang plaasvind? sê pastoor John Piper dat God sy eie doelstellings het wanneer Hy die ekonomie laat agteruitgaan en resessie intree. Hy gee die volgende moontlike redes aan die hand. 1. Om sonde oop te vlek en ons almal tot berou en bekering te bring. 2. Om ons attent te maak op die desperate situasie wat in die ontwikkelende wêreld heers, waar resessie van die ergste graad altyd aan die gang is. 3. Om ons bewus te maak daarvan, dat ons blydskap en vrede in God te vind is en nie in ekonomiese voorspoed nie, in sy kosbare teenwoordigheid en nie in geld en besittings nie. 4. Om sy reddende genade aan mense wêreldwyd uit te dra, sodat sy kerk kan groei, veral nou terwyl menslike hulpbronne die minste in staat is om dit te doen. 5. Om sy kerk daartoe te bring om na lidmate en mense wat swaarkry uit te reik en sy liefde aan ander te betoon. Wat wil die Here ons nog in moeilike tye leer? Dat niks op aarde vir Hom onmoontlik is nie (Lukas 1:37). Dat die ekonomiese afswaai Hom nie kan kortwiek nie “want al die diere in die bos is Myne” (Psalm 50:10). Dat God nie ’n moratorium op die Groot Opdrag geplaas het nie en ons nie in die steek gelaat het nie (Matteus 28:20). Moenie op wêreldse voorspoed vertrou nie, maar op Hom aan Wie alles op aarde behoort. –