’n Jong meisie, Amy Carmichael (1867-1951) het bruin oë gehad, maar sy het so gewens haar oë was blou. Sy het selfs tot God gebid om die kleur van haar oë te verander en toe Hy dit nie gedoen het nie, was sy baie teleurgesteld. Toe sy 20 jaar oud was, het sy gevoel die Here roep haar om sendeling te word. Nadat sy by verskeie plekke gedien het, het sy Indië toe gegaan. Dit was toe dat sy eindelik die wysheid van God se plan besef het. Dit sou moeilik gewees het vir mense met bruin oë om haar te aanvaar, as haar oë blou was. Sy het die Here vir 55 jaar in Indië gedien. Ons kan nie met sekerheid sê dat Amy makliker aanvaar is omdat haar oë bruin was nie. Maar ons weet wel dat “Hy … ons gemaak [het]” (Psalm 100:3) en ons weet dat Hy die beste weet en daarom onderwerp ons onsself aan sy wysheid en weet dat Hy nie ’n fout maak nie en ons toerus om Hom ten beste te dien. Amy het geweet wat dit beteken om onderworpe aan God te wees. Toe sy oor sending en die lewe van ’n sendeling uitgevra is, het sy gesê: “Sendingwerk is doodeenvoudig ’n geleentheid om aan die self te sterwe.” Jesus het gesê: “Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry” (Matteus 16:25). Dit beskryf die lewe van ’n toegewyde Christen – volkome oorgawe aan God en sy planne. Laat ons onsself vandag aan Hom oorgee.