Na vier jare in die kweekskool het ek my eerste bediening ingestap met baie op my agenda. As ’n nuwe pastoor het ek my verbeel dat dit my taak is om die hele omgewing te verander. Maar in plaas daarvan het God daardie gemeente gebruik om my te verander. Die raadslede was ondersteunend, maar ek moes baie leer en hulle het my gedryf om administratiewe sake te behartig. Ek moes leer om met ander mense saam te werk, om versigtig te wees hoe ek ander hanteer en om saam met ander ’n visie daar te stel waaroor ons saam kon droom. Ons dink soms dat God ons gekies het om die situasie waarin ons is, te verander, maar dikwels wil Hy juis vir ons verander. Waarom wil Hy dit doen? Omdat Hy ons “’n voorwerp vir besondere gebruik” (2 Timoteus 2:21) wil maak. En om dit te doen, gebruik Hy dikwels die mees onwaarskynlike persone en die mees onwaarskynlike situasies om ons die moeilike lesse te leer. En net wanneer ons begin dink ons het eindelik aangekom, wys Hy ons op nog dinge wat moet verander. Onlangs het ek weer ’n nuwe bediening aangepak. Ek mag al ’n “veteraan” wees, maar ek is steeds besig om te leer en ek groei nog altyd. En ek is verbaas om te beleef hoedat die Here my steeds vorm om sy wil te doen. Indien jy graag veranderinge wil teweegbring, moenie die ware Agent van Verandering geringskat nie. Hy het jou belange – en Syne – op die hart.