Kameelperde slaap die minste van alle soogdiere. Hulle slaap tussen 10 minute en 2 ure elke 24 uur periode en die gemiddeld is 1,9 uur slaap elke 24 uur. Die kameelperd het nie veel met ons as mense in gemeen nie, want as ons so min geslaap het, sou dit waarskynlik beteken dat ons aan een of ander vorm van slapeloosheid gely het. Maar by kameelperde is dit maar net soos die Here God hulle geskep het. Indien jy dink dat 1,9 uur slaap per dag nie baie is nie, wat dan van ons Skepper en Here? Hy wat die kameelperde geskep het, slaap nooit nie. Ja, ons hemelse Vader is altyd wakker. Die psalmdigter verduidelik aan ons hoe die Here vir ons sorg en dan sê hy: “Hy wat jou beskerm slaap nooit nie” (Psalm 121:3). In die konteks van hierdie psalm stel die skrywer dit duidelik dat God se slaaplose waaksaamheid tot ons beswil is. In vers 5 sê hy: “Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare”. Ja, die Here hou ons vas, beskerm ons en sorg vir ons. Hy het nie nodig om verfris te word deur te slaap nie. Ons beskermer is altyd daarop uit om die beste vir ons te doen. ’n Sekere lied stel dit so: “Hy sluimer nie, Hy slaap nooit, Hy waak dag en nag oor my.” Worstel jy vandag met probleme? Wend jou tot die Een wat nooit slaap nie. Elke sekonde van elke dag is Hy daar. “Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd” (vs. 8).