Nadat my dokter my met kanker diagnoseer het, het ek probeer luister na wat hy sê, maar ek kon nie. Ek het huis toe gegaan, ’n kombers oor my kop getrek en op die rusbank aan die slaap geraak, asof slaap die diagnose kon verander en die situasie kon verbeter. Toe ek eindelik genoeg moed bymekaar geskraap het om my geliefdes te vertel, het my goeie vriendin Judy Schreur iets baie besonders gesê. Nadat sy gesimpatiseer het, het sy vervolg: “Jy sal vir 3 dae baie sleg voel, dan sal jy opstaan, besluit wat jy moet doen en met jou lewe aangaan.” Toe voeg sy by. “Ek dink dit het te doen met dood, begrafnis en opstanding.” Aanvanklik het ek haar nie geglo nie. Vir my het dit gevoel asof my lewe verby was. Ek kon my nie voorstel dat ek ooit weer normaal sou voel nie. Maar sy was reg. Drie dae later het ek wakker geword en besef dat ek darem regtig nie te sleg voel nie. Stadig maar seker, ten spyte van die fisiese probleme van chemoterapie, het my emosionele en geestelike toestand besonder verbeter. Ek het as ’t ware gesterf aan die ou realiteit en is opgewek in ’n nuwe normaliteit. Ek is dankbaar om te weet dat God in die besigheid van opstanding betrokke is. Vir diegene wat in Christus gesterf het, beteken die dood maar net ’n nuwe opstanding en ’n nuwe normaliteit sodat ons “’n nuwe lewe kan lei” (Romeine 6:4).