Jy kan dit nie sien of aanraak nie, maar reuk is iets kragtigs. Die reuk van kleurkryt, petunia’s en reukwater wek herinneringe wat my dikwels tot ver in die verlede terugvoer. Dit herinner my aan plekke en persone wat ek andersins nie sou onthou het nie. Sekere beroemde persone het geure wat spesiaal met hulle assosiëer word. Bewonderaars kan met ’n rolprentster identifiseer deur van die reukwater wat haar naam dra, te gebruik. Onlangs het Ladies Home Journal ’n vasvra gepubliseer om die lesers te help om vas te stel watter reukwater die beste vir hulle sou wees. Die gedagte is dat elke vrou ’n spesiale geur moet hê wat spesifiek met haar assosiëer word. Die idee van ’n persoonlike reukwater is nie nuut nie. God het dit as ’n deel van aanbidding ingestel. In die tabernakel is ’n sekere geur spesifiek met God assosiëer (Eksodus 30:34,35). Die Israeliete is verbied om hierdie geur vir enigiets anders as aanbidding te gebruik (vs. 37,38). Hierdie idee word ook in die nuwe bedeling en onder die nuwe verbond voortgesit. In plaas van om reukwater te gebruik om mense aan Hom te laat dink, gebruik God Christene as sy “reukwater” vir die wêreld (2 Korintiërs 2:14-15). Die feit dat God Homself op so ’n spesiale manier met ons identifiseer, laat my onwaardig voel en dan moet ek vra: “Wat dink mense van God as hulle met my te doen kry?”