Indien iemand jou sou vra: “Wie is jy?” sou jy iets van jouself vertel en wat jy doen. Miskien sou jy sê: “Ek’s ’n elektrisiën” of “Ek’s ’n verpleegster.” Maar dis nie regtig wie jy is nie – dis wat jy doen. Dit lei ons na die vraag: As jy is wat jy doen, wat sal jy dan wees as jy ophou om te doen waarmee jy nou besig is? Wie jy regtig is, hang af van jou verhouding met Jesus. En hierdie besef van wie jy is, sal jou optrede beïnvloed. Dink byvoorbeeld aan Matteus, die tollenaar. As ’n tollenaar gedurende die regering van die Romeinse Ryk, was hy gedryf deur gierigheid. Maar alles het verander toe Jesus opgedaag het en Matteus genooi het om Hom te volg (Matteus 9:9). Meteens het Matteus ’n nuwe identiteit as volgeling van Christus gehad. En hy was nie die enigste een nie. Ons lees van vier vistermanne in Matteus 4:18-25. Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes het hulle vissersnette laat staan en Jesus gevolg. Jesus is ’n dinamiese Persoon, as Hy jou roep, gebeur iets dramaties. Hy soek vandag nog mense om Hom te volg. Hy wil jou lewe verander en jou ’n nuwe identiteit as sy volgeling gee. Dit beteken nie jy moet jou beroep laat vaar nie, maar dit beteken wel dat jy voortaan alles wat jy doen, jou werk en ontspanning – jou hele lewe, volgens sy wil sal inrig. Wanneer iemand jou weer vra: “Wie is jy?” hoop ek jy sal sê: “’n Volgeling van Jesus.”