Gettysburg in Pennsylvania is die plek waar die Amerikaanse Burgeroorlog eindelik ’n kentering getoon het. Een van die belangrike gebiede waar die keerpunt gekom het, was ’n heuwel genoem Little Round Top, waar kolonel Josua Chamberlain en sy manskappe van die 20ste Maine hulle man gestaan het. Indien die opponerende troepe by Chamberlain en sy manskappe verby gekom het, glo verskeie historici dat die Unie se magte omsingel sou word en dat dit moontlik daartoe sou gelei het dat die oorlog verloor word. Die 20ste Maine was die laaste linie van verdediging. Volgelinge van Christus is ook in ’n hewige stryd gewikkel. Terwyl ons die stryd teen die “listige aanslae van die duiwel” (Efesiërs 6:11) voer, word ons opgeroep om die wapenrusting van God aan te trek sodat ons staande kan bly (vs. 10-18). Soos daardie soldate by Gettysburg, het ons ook ’n laaste linie van verdediging. Vir ons is hierdie verdediging baie sterker as enige menslike mag. Paulus sê dat ons vertroue op die onsterflike liefde van God geskoei is (Romeine 8:31-39). Ons beskerming is so volkome dat “niks ons van die liefde van God [kan] skei nie” (Romeine 8:39). Wanneer dit vir jou voel asof die vyand jou wil oorweldig en dat alles verlore is, onthou dan: Ons het ’n onoorwinlike laaste linie van verdediging. “Ons [is] meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (vs. 37).