In sy boek Forever Young: My Friendship with John F. Kennedy, Jr. skryf Billy Noonan oor sy vriendskap met die seun van president John Kennedy. Gedurende 1980 is John Jnr. en Billy genooi om aan boord van die vliegdekskip, die John F. Kennedy te gaan. Terwyl hulle saam met ’n gids op ’n toer deur die skip gegaan het, het hulle ’n verbode area betree. Toe ’n offisier hulle voorkeer, het die gids na John gewys en gesê: “Dis sy pa se skip.” Dadelik het die offisier op aandag gestaan, en John gesalueer. Hy het toe verduidelik dat as ’n skip van die VSA na iemand vernoem word, word dit aanvaar dat die skip aan daardie persoon behoort. Daarom, as die seun van die man na wie die skip vernoem is, het John sekere buitengewone voorregte gehad. Hierdie situasie illustreer ’n belangrike geestelike beginsel. As aangenome kinders van God het ons wat gered is, sekere voorregte – ons is sy kinders. Paulus skryf dat ons volgens God se genadige beskikking “ook al daarvoor bestem [is] om deur Jesus Christus sy kinders te wees” (Efesiërs 1:5). Aangesien ons sy kinders is, het ons deel aan die voorregte wat aan die kinders van die Koning van alle konings behoort. In hierdie lewensreis wat soms soveel eise stel, kan ons moed skep dat die skip aan ons “Abba Vader” (Romeine 8:15) behoort en Hy deel alles met ons. Loof die Here, ons is mede-erfgename met Christus!