Herman Wouk se spannende roman oor die Tweede Wêreldoorlog, The Caine Mutiny, bevat ’n uitstekende beskrywing van wat in die lewe van ’n persoon gebeur as hy ’n volgeling van God word. In die verhaal lees ons van ’n jong seun uit ’n invloedryke familie wat by die Vloot aangesluit het. Sy ma neem hom toe in haar luukse motor na die gebou waar hy vir diens moet aanmeld. Hulle soen mekaar en hy stap nader, skud hande met die wag, en stap die gebou binne. Die deur gaan agter hom toe. Die ma dink toe skielik daaraan dat hy miskien nie genoeg geld het nie en haas haar na die deur. Maar die wag keer haar voor. Sy eis om binnegelaat te word, maar op ’n beleefde wyse weier die wag. Sy kan haar seun binne sien staan en sy reik uit om die deur oop te maak. “Hy’s my seun!” roep sy uit. Die wag verwyder haar hand op beleefde wyse van die deur af en sê sag: “Ek weet, Mevrou, maar hy behoort nou aan die Vloot. Hy’s ’n matroos!” Wanneer ons die Here Jesus as ons Verlosser en Saligmaker aanneem, kom ons onder nuwe bestuur. Ons moet nou nuwe bevele gehoorsaam. Ons behoort nou aan die Here. Wat eens vir ons belangrik was, het nou nie meer veel waarde nie. Ons evalueer dinge anders. Ons nuwe begeerte is om die Here Jesus lief te hê en Hom van harte te dien (Deuteronomium 6:5-6). Het jy al by sy leermag aangesluit en volg jy Hom getrou?