Toe iemand onlangs aan my vriend gesê het “Sien jou oor ’n jaar,” het dit vreemd geklink toe die man antwoord: “Ja, sien jou aan die ander kant.” Hy het bedoel dat hy hom aan die ander kant van ’n jaar se diens in die vloot sou sien. Maar omdat daardie uitdrukking dikwels gebruik word om na die hemel te verwys, het dit my aan die onsekerheid van die lewe laat dink. Ek het gewonder: Wie van ons sal na ’n jaar nog hier wees? Wie mag dan al aan die ander kant – in die hemel wees? Ons weet beslis nie wat die komende jaar – of selfs die komende uur sal bring nie. Jakobus skryf in sy brief oor hierdie onsekerheid. Hy bestraf die inhalige besigheidsmanne wat net gedink het wat hulle die volgende dag, of die volgende jaar sou doen (Jakobus 4:13). Hulle sonde was nie dat hulle planne beraam het nie, maar wel dat hulle van God vergeet het en vol van hulleself was. Jakobus herinner hulle: “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn (vs. 14).” Peter Davids wys op hulle dwaasheid en sê: “Kom nou, julle wat soveel planne beraam – julle besef hoegenaamd nie dat julle weinig beheer oor die lewe het nie.” Geen aspek van die lewe is buite die beheer van God nie. Wanneer ons planne beraam moet ons altyd sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen” (Jakobus 4:15).