Terwyl ek deur Chicago gery het, het ek ’n kennisgewing gesien wat ’n besigheidseminaar adverteer. Die kennisgewing se bewoording het my getref. Die Waarde van ’n Leier hang af van daardie Leier se Waardes. Daardie stelling het my laat dink. Dit wat vir ons kosbaar is en waarde het, vorm ons karakter en dit sal uiteindelik bepaal hoe ons ander sal lei en of ons wel in staat sal wees om leiding aan ander te gee. Vir die volgeling van Christus is waardes nog belangriker. Toe Paulus aan die gelowiges in Kolosse geskrywe het, het hy gesê: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is” (Kolossense 3:2). Hy glo dat slegs as ons toelaat dat ons waardes deur die ewige dinge en nie die tydelike bepaal word, sal ons in staat wees om effektiewe ambassadeurs vir Christus te wees. Dit beteken ons moet onthou dat ons pelgrims in hierdie wêreld is en nie toeriste nie. Ons moet ’n duidelike perspektief en ’n onverdeelde hart behou – dan en dan alleen kan ons effektiewe diensknegte van ons Verlosser wees. Dit word soms gesê dat ons in ’n wêreld lewe wat die koste van alles ken, maar nie die waarde van iets besef nie. In hierdie wêreld egter word ons, as volgelinge van Christus, opgeroep om ons waardes op die ewige dinge te bou. Om dit in ander woorde uit te druk: “Die effektiwiteit van die Gelowige hang direk af van die waardes wat die Gelowige huldig.”