Verlede Januarie het ESPN televisie ’n program oor Peyton Manning van die Indianapolis Colts, aangebied. Hy is pas tevore as die NFL se waardevolste speler aangewys. Die program het nie oor sokker gehandel nie. Dit het verwys na die feit dat Manning die afgelope jare wanneer iemand wat hy bewonder as speler uitgetree het, ’n briefie aan hulle geskryf het om hulle geluk te wens met wat hulle bereik het. Elkeen wat ’n briefie ontvang het, is genader en almal het waardering teenoor Manning uitgespreek. Dit was vir hulle kosbaar dat een van die grootste spelers van alle tye die moeite sou doen om persoonlik aan hulle te skryf. Dit herinner aan die mag van die geskrewe woord. Alhoewel ’n handgeskrewe briefie van ’n bekende atleet soos Peyton Manning baie waarde het, kan dit nie vergelyk word met die Woord wat ons van God ontvang het nie. Paulus skrywe: “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif gee, vol hoop kan wees” (Romeine 15:4). In die diepe wyshede wat ons in die Bybel vind, het ons ’n boodskap van God waarin Hy sê wat Hy van ons verlang en wat Hy graag vir ons wil wees. Hy het aan ons sy Woord gegee, sodat ons “hoop” kan hê om die moeilike situasies van die lewe te hanteer. Laat ons die Woord lees en kyk hoe dit ons lewe verander.