Pastoor en skrywer Erwin Lutzer skryf: “Een minuut nadat jy agter die geopende gordyn inbeweeg het, sal jy òf die wonderlike verwelkoming van Jesus beleef, òf jou eerste aanblik van die diepste duisternis wat jy nog ooit beleef het, ondervind. Hoe dit ook al sy, jou toekoms sal eens en vir altyd finaal en onveranderlik wees.” Lukas vertel van twee manne wat op die punt was om agter die gordyn van die dood in te beweeg. Toe Jesus daar aan die kruis gehang het, het twee diewe langs hom gehang. Volgens Markus het albei manne Hom beledig en bespot (Markus 15:32). Maar een van die diewe het egter ’n hartsverandering ondergaan en besef dat Jesus onskuldig is. Hy het van sy eie sonde en verlorenheid bewus geword en toe het hy die ander dief bestraf en die Here gevra om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom. Hierdie woorde was die teken dat die man berou gehad het en tot inkeer gekom het. Jesus antwoord toe: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Lukas 23:43). Daardie man is onmiddellik gered. Hy het op daardie dag geweet waar hy die ewigheid sou deurbring. Deur te besef dat ons sondaars is, dit te erken en ons vertroue op Jesus, sy dood en opstanding te vestig, kan ons seker wees waar ons die toekoms sal deurbring – al die ewige môres – wanneer ons agter die geopende gordyn van die dood sal inbeweeg.