Spiridon Louis is nie ’n wêreldbekende figuur nie, maar in Griekeland is hy wel ’n belangrike persoon. Dis as gevolg van dit wat tydens die Olimpiese Spele in 1896 in Griekeland gebeur het. Gedurende daardie Spele het die Grieke goed presteer – hulle het die meeste medaljes van enige land gewen. Maar die wedloop wat aan die Grieke die meeste trots besorg het, was die eerste maraton wat ooit gehardloop is. Sewentien atlete het aan hierdie wedloop van 40 kilometers deelgeneem en Louis, ’n gewone arbeider, het dit gewen! Vir hierdie prestasie is hy deur die koning en die hele land vereer en hy het ’n nasionale held geword. Paulus het telkens die beeld van ’n wedloop gebruik om die Christelike lewe uit te beeld. Hy daag gelowiges uit om nie net aan die wedloop deel te neem nie, maar om te draf om te wen: “Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan sò dat julle die prys kan wen” (1 Korintiërs 9:24). Paulus het nie net hierdie waarheid geleer nie, maar dit self uitgeleef. “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou” (2 Timoteus 4:7). Noudat hy die wedloop afgelê het, het hy gelowig daarna uitgesien om die kroon van die Here te ontvang. Hardloop jou lewensreis net soos Paulus – hardloop om te wen en die Koning te behaag.