Deesdae is dit baie belangrik om gekonnekteer te wees. Baie mense sit nie ’n voet uit die huis sonder hulle selfoon nie. Skootrekenaars het onmisbaar geword. Ons voel ons moet 24 uur van die dag bereikbaar wees. Sommige sielkundiges beskou hierdie begeerte om gekonnekteer te bly as ’n tipe verslawing. ’n Groeiende getal mense is deesdae besig om hulle gebruik van tegnologie te beperk. Deur dit te doen, het hulle meer tyd om stil te wees en beperk hulle die instroming van inligting wat vermoeiend kan wees. Baie Christene is oortuig dat ’n tyd van Bybellees en gebed noodsaaklik is vir geestelike groei. Hierdie “stiltetyd” is ’n tyd wanneer hulle hulleself doelbewus van uiterlike dinge afskei om met God te verkeer. Die “groen weivelde en waters waar rus is” van Psalm 23:2 is meer as net die beskrywing van ’n landelike toneel. Dit dui op die kind van die Here se kommunikasie met God waardeur sy siel versterk word en hy of sy in God se weë gelei word (v. 3). Almal van ons kan tyd maak om met die Here te verkeer, maar doen ons dit? In Robert Foster se boek 7 Minutes With God gee hy riglyne oor hoe ’n mens kan begin. Begin met ’n kort gebed vir leiding, lees die Bybel vir ’n paar minute, en sluit af met ’n tydjie van gebed wat aanbidding, belydenis, danksegging en voorbidding insluit. Dis noodsaaklik om tyd te neem om met God te konnekteer. –David McCasland