Tiger Woods is beslis een van die grootste gholfers van hierdie geslag. Sy vermoë om onder druk te presteer is werklik legendaries. Nogtans is dit nie net die begeerte om te wen wat Tiger motiveer nie. Hy het ’n passie om wat hy doen goed te doen. Ten spyte van sy groot sukses oefen hy steeds sy houe in die verlange dat hy nog verder kan verbeter. Hy is net nooit tevrede nie. Paulus het ook hierdie strewe na net die beste gehad – maar wel in sy verhouding met Jesus. Nogtans het hy ons geleer dat ons balans in die lewe moet hê. Alhoewel ons nooit tevrede mag wees met die peil van ons Christenskap nie, moet ons altyd vrede en rus in Christus vind. In sy brief aan die Filippense maak hy van albei hierdie realiteite melding. Hy skryf vanuit die tronk in Filippi, maar verklaar nogtans sy tevredenheid met sy omstandighede en sê dat hy alles in die Here se hande laat (Filippense 4:11). Maar tog was hy nie tevrede met sy eie geestelike peil nie. Hy sê dat hy nog nie die doel bereik het nie – hy maak hom dus los van wat agter is en strek hom uit na wat voorlê. “Ek span my in om by die wenstreep te kom” (Filippense 3:11-14). Dis so belangrik dat Christene moet leer om hulle verlange na geestelike groei en uitnemendheid altyd te balanseer met tevredenheid met dit wat hulle reeds bereik het. Dit mag die vergete sleutel tot geestelike groei wees.