Het God jou al ooit gevra om iets te doen wat vir jou onredelik gelyk het, iets wat jou heeltemal in ’n vreemde terrein sou inneem? Wat as Hy jou sou vra om ’n langverwagte bevordering van die hand te wys of om ’n verhouding wat vir jou kosbaar is, te verbreek. Sê nou maar Hy vra jou om in ’n vreemde land sy Naam te gaan verkondig, of dat jy jou kinders moet toelaat om so ’n roepstem te gehoorsaam? Die onbekende bevat so baie “sê nou maar’s”. Nogtans roep die Here ons dikwels om onbekende terreine vir Hom binne te gaan. Om sy opdragte om te gee en te vergewe uit te voer, is nie maklik nie, ook nie as ons van ons skatte afstand moet doen en sekuriteite moet opoffer nie. Dan bevind ons onsself op vreemde terrein. Dink net hoe Abraham moes gevoel het toe God vir hom gesê het om sy familie te neem en weg te trek na ’n onbekende plek (Gen. 12:1-3). God het van hom gevra om te volhard en in die vreemde land te bly, selfs toe die gedagte aan wat hy in Ur van die Galdeërs geniet het, moontlik vir hom ’n versoeking geword het om daarheen terug te keer. Wanneer ons ’n nuwe jaar binnegaan, gaan ons ook onbekende terrein binne. Die vrees vir die onbekende kan vir ons ’n struikelblok word en ons verhinder om God se leiding te volg. Nogtans, as ons soos Abraham, aan die Here vashou, Hy wat alles weet, kan ons rustig wees – waar Hy ons ook al lei