Die openingsplegtigheid tydens die Olimpiese Spele in 2008 is met allerhande woorde beskrywe, onder andere “ongelooflik, asemrowend, buitensporig.” Een kommentator het gesê: “Dit wys wat gedoen kan word as ’n mens aan ’n kunstenaar vrye teuels en volop fondse gee.” Toe ek dit hoor, het ek dadelik gedink: Dis presies wat God met die skepping gedoen het. Hy het niks teruggehou nie, maar alles gegee. Gevolglik is die heelal ongelooflik mooi, uiters kompleks en in alle opsigte buitensporig. Die Olimpiese plegtigheid was volmaak; maar as net een deelnemer besluit het om van die program af te wyk, kon die hele seremonie daardeur benadeel gewees het. Dis presies wat net na die skepping gebeur het. Anders as die persoon wat die Olimpiese Spele hanteer het, het God aan sy skepsels ’n vrye wil gegee, en sy skepping is geskend deur Adam en Eva se keuse om hulle eie pad te loop. In Jesaja se woorde: “Ons het elkeen sy eie pad geloop” (Jes. 53:6). God se oplossing vir ons eiegeregtigheid was ongelooflik: Hy, die Kunstenaar, het self die prys betaal om dit wat ons vernietig het, te herstel. Daar sal eendag ’n ander openingsplegtigheid wees en dan sal almal in die hemel en op aarde voor die Here buig (Filip. 2:10). Almal,van elke stam en taal wat God se plan aanvaar het, sal Christus verheerlik in die volmaakte Nuwe Jerusalem (Openb. 15:4)