Die hoofweg aan die suidelike oewer
van die Michigan Meer kan nogal
gevaarlik wees, veral gedurende die
wintermaande. Een naweek was ons vanaf
Grand Rapids onderweg terug na Chicago,
toe die sneeu en ys so saamgepak het dat
die verkeer heeltemal ontwrig is. Ons het
byna twee keer langer as gewoonlik gery.
Ons was dankbaar toe ons eindelik van die
hoofweg afry en die laaste ent huis toe
aanpak. Op daardie stadium het my man
uitgeroep: “Dankie, Here. Ek dink ek sal
dit van hier af kan neem.”
Net toe hy daardie woorde uiter, het die
motor skielik begin gly en 180 grade
geswaai. Toe die voertuig eindelik tot
stilstand kom, het ons almal se harte
moeisaam geklop.
Dit was byna asof ons die Here kon
hoor sê: “Is julle seker?”
Waarom probeer ons soms om die lewe
alleen deur te gaan, terwyl die Here eintlik
elke oomblik daar is vir ons? Hy sê: “Ek is
by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook
al gaan” (Genesis 28:15). Hy verseker ons verder: “Ek sal jou nooit
verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Hebreërs 13:5).
Thomas Chalmers (1780-1847) was ’n Skotse wiskundige en
prediker en hy skryf: “Wanneer ek in die veld stap, is Hy by my.
Wanneer ek in geselskap verkeer en Hom soms vergeet, vergeet
Hy my nooit nie … waar ek ook al gaan, Hy sorg vir my, hou
toesig oor my en beskerm my.”
Wat ’n wonderlike seën om te weet dat die Here altyd by my is.