My pa was ’n goeie man, en ek was, meestal, ’n gehoorsame seun. Maar ek het toegelaat dat my pa gebrek ly aan die een ding wat ek hom kon gee: myself.

Hy was ’n stil man; ek was net so stil. Ons het baiekeer vir ure langs mekaar gewerk waar daar omtrent niks gesê is nie. Hy het nooit gevra nie; ek het nooit my diepste wense en drome, my hoop en vrese, met hom gedeel nie.

Mettertyd het ek tot die besef gekom van my teruggetrokkenheid. Dalk het dit gekom met my eerste seun se geboorte, of toe my seuns, een vir een, die huis verlaat het om die wêreld in te gaan. Nou wens ek dat ek meer van ’n seun was vir my pa.

Ek dink aan alles wat ek vir hom kon sê. En alles wat hy vir my kon sê. By sy begrafnis het ek langs sy kis gestaan, en gestoei met my gevoelens. “Dis te laat né?” het my vrou stilweg gesê. “Presies.”

My troos lê daarin dat ons dinge in die hemel sal kan regstel, want is dit nie daar waar trane afgedroog sal word nie? (Openbaring 21:4).

Vir gelowiges is die dood nie die einde van toegeneëndheid nie, maar die begin van tydlose bestaan waar daar nie meer misverstande is nie; verhoudings sal herstel word en liefde sal verewig groei. Daar sal vaders en seuns versoen (Maleagi 4:6).