My ouers het ’n liefde vir musiek by my gekweek – van country tot klassiek. My hart het dus gebons toe ek by die Moskou Konservatorium – een van Rusland se beroemde musieksale – instap en die Moskou Nasionale Simfonie hoor speel. Terwyl die dirigent die musikante deur ’n meesterlike stuk van Tchaikovsky begelei het, het temas ontwikkel wat geleidelik opgebou het tot ’n magiese oomblik. Die gehoor het hulle staande toegejuig.

In die kruis en opstanding van Jesus Christus beweeg die Skrif na die magtigste crescendo in die geskiedenis. Pas nadat Adam en Eva in die tuin van Eden gesondig het, belowe God ’n Verlosser wat sal kom (Gen. 3:15) –  ’n tema wat dwarsdeur die Ou Testament opgebou word. Die belofte is herhaal in die paaslam (Eks. 12:21), die hoop van die profete (1 Pet. 1:10), en die verlangens van God se volk.

1 Johannes 4:14 bevestig die hoogtepunt: “En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het.” Hoe? God het die beloofde redding van Sy gebroke wêreld volvoer toe Jesus gesterf en opgestaan het om ons te vergewe en ons weer met ons Skepper te verenig. Eendag sal Hy weer kom en Sy ganse skepping herstel.

Wanneer ons onthou wat God se Seun vir ons gedoen het, vier ons die magtige crescendo van God se genade en redding vir ons en Sy wêreld – Jesus!