As kind het ek graag na ons dorp se bibliotekie gegaan. Ek het na die rakke vol boeke in die jeugafdeling gekyk en gereken ek kon dalk ál daardie boeke lees. Ek het egter ’n belangrike punt misgekyk – nuwe boeke beland voortdurend op die rakke. Al sou ek ’n dapper poging aanwend, was daar net te veel boeke.

Nuwe boeke vul steeds meer boekrakke. Dalk sou die apostel Johannes verstom wees oor die beskikbaarheid van boeke vandag aangesien sy 5 Nuwe-Testamentiese boeke: Die Evangelie van Johannes; 1, 2 en 3 Johannes, en Openbaring, met die hand op perkamentrolle geskryf is.

Johannes het daardie boeke geskryf omdat hy gevoel het die Heilige Gees dring hom om vir Christene ’n ooggetuieverslag oor Jesus se lewe en bediening daar te stel (1 Joh. 1:1–4). Dié skrywes bevat egter ’n breukdeel van alles wat Jesus tydens Sy bediening gedoen en onderrig het. Johannes sê dat as dit “een vir een beskrywe moet word … sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie” (Joh. 21:25).

Johannes se woorde geld vandag nog. Ten spyte van al die boeke wat oor Jesus geskryf is, kan al die biblioteke in die wêreld steeds nie elke verhaal van Sy liefde en genade bevat nie. Ons kan dit ook vier dat ons ons eie verhale het om te deel en bly wees omdat ons vir altyd daarvan sal kan vertel! (Ps. 89:2.)