Twee mans was weens dwelmhandel ’n dekade lank in die dodeselle. Daar het hulle van God se liefde in Jesus vir hulle geleer en dit het hul lewens verander. Toe hulle voor die vuurpeleton staan, het hulle na hul teregstellers gekyk en die “Ons Vader” gebid en “Amazing grace” gesing. Danksy hul geloof in God kon hulle deur die krag van die Gees die dood met ongelooflike moed tegemoetgaan.

Hulle het die geloofsvoorbeeld van hul Verlosser, Jesus, nagevolg. Jesus het geweet dat Sy dood naby is en het ’n gedeelte van die aand saam met Sy vriende gesing. Dis merkwaardig dat Hy in sulke omstandighede kon sing, maar wát Hy gesing het, is nog merkwaardiger. Jesus en Sy vriende het daardie aand die paasmaaltyd genuttig, wat altyd afgesluit is met ’n reeks psalms wat bekendstaan as die Hallel – Psalm 113–118. Kort voor Sy dood sing Hy van die “(b)ande van die dood” wat Hom omsluit (116:3). Tog prys Hy God om Sy getroue liefde (117:2) en dank Hom vir Sy redding (118:14). Vir seker het dié psalms Jesus daardie aand voor Sy kruisiging versterk.

Jesus se vertroue in God was so groot dat Hy, selfs toe Hy Sy dood – ’n dood wat Hy nie verdien het nie – nader, gekies het om van God se liefde te sing. Dit is danksy Jesus dat ons ook die vertroue kan hê dat God met ons is – waarteen ons ook al te staan kom.