Met ’n wydingseremonie is ’n Bybel wat in ’n plaaslike Afrikataal vertaal is, bekendgestel, en het die hoof van die area sy eie kopie ontvang. Hy het die Bybel waarderend na die hemel gelig en verklaar: “Nou weet ons God verstaan ons taal! Ons kan die Bybel in ons eie moedertaal lees.”

Ons hemelse Vader verstaan – ongeag die taal wat ons praat. Tog sukkel ons dikwels om ons diepste verlangens met Hom te deel. Die apostel Paulus moedig ons aan om te bid ongeag ons gevoelens. Hy praat van die wêreld wat ly en ons eie pyn: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting” (Rom. 8:22), en vergelyk dit met die Heilige Gees se werk om ons onthalwe: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom. 8:26).

God se Heilige Gees ken ons deur en deur. Hy ken ons verlangens, die taal van ons hart, ons onuitgesproke woorde, en staan ons by in ons omgang met God. Sy Gees trek ons om na die beeld van God die Seun verander te word (vs. 29).

Ons hemelse Vader verstaan ons taal en praat deur Sy Woord met ons. Wanneer ons dink ons gebede skiet tekort, help Sy Gees ons en praat deur ons met die Vader. Hy hunker daarna dat ons sal bid en met Hom praat.