Reeds vroeg in ons huwelik het ek daarmee gesukkel om my vrou se voorkeure te ontrafel. Wou sy graag ’n stil aandete tuis geniet of eerder ’n restaurant besoek? Was dit goed as ek saam met die manne kuier, of het sy verwag dat ek die naweek saam met haar sal deurbring? Eenkeer het ek, sonder om te raai en self te besluit, haar sommer reguit gevra: “Wat wil jy hê?”

“Ek is met beide gelukkig,” het sy glimlaggend geantwoord. “Ek is net bly jy het aan my gedink.” Daar was tye wanneer ek werklik graag wou weet presies wat God wou hê ek moet doen – byvoorbeeld watter werk om te aanvaar. Gebed vir leiding en Bybellees het nie enige spesifieke antwoorde opgelewer nie. Maar een antwoord was tog duidelik: Ek moes op die Here vertrou, my vreugde in Hom vind en aan Hom oorgee (Psalm 37:3–5).

Skielik het ek besef dat God aan ons ’n vryheid van keuse bied – indien ons natuurlik eerstens poog om Sy wil voor ons eie te stel. Dit sal beteken om keuses wat duidelik verkeerd is en God nie behaag nie te laat vaar. Dit mag dalk iets onsedelik, goddeloos of afbrekend tot ons verhouding met Hom wees. Indien die oorblywende opsies God behaag, is ons vry om daaruit te kies. Ons liefdevolle Vader wil aan ons die begeertes van ons harte gee – harte wat in Hom verheug is (vs. 4).