“Ons gaan hierlangs” het ek vir my seun gesê toe ek hom op sy skouer tik en deur die skare agter sy ma aan beduie. Ek sou dit meermale deur die loop van die dag tydens ons besoek aan die pretpark doen. Hy het moeg geword en was maklik verwar. Hoekom kan hy hulle nie net volg nie? het ek gewonder.

Toe tref dit my: “Hoe dikwels doen ek nie presies dieselfde nie? Hoe dikwels word ek so deur versoekings bekoor en aangemoedig om dit na te jaag dat ek selfs wegdraai van ’n gehoorsame pad saam met God in plaas daarvan om eerder Sy weë te volg?”

Dink aan God se woorde toe Hy deur Jesaja aan Israel gesê het: “Wanneer jy die regte koers verlaat sal jy agter jou ’n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’” (Jesaja 30:21). God het vroeër in daardie hoofstuk Sy mense vir hulle opstandigheid bestraf. Maar as hulle eerder op Sy krag sou vertrou in plaas daarvan om hulle eie kop te volg (vs. 15), het God belowe om hulle genadig te wees en Hom oor hulle te ontferm (vs. 18).

Een uitdrukking van God se ontferming is Sy belofte om ons deur Sy Heilige Gees te lei. Dit vind plaas soos ons oor ons begeertes met Hom praat en in gebed vra wat Hy vir ons beplan. Ek is dankbaar dat God ons, soos wat ons Hom vertrou en na Sy stem luister, dag vir dag en tree vir tree lei.