“Jy moet na my luister, ek is jou broer!” Hierdie vermaning was deur ’n seun in ons buurt aan sy jonger broer gerig. Dit was duidelik dat die ouer broer bewus was van die gaping wat daar tussen hom en sy jonger broer aan die ontwikkel was, asook die beste wyse hoe dit reggestel kan word.

Hoeveel van ons het al die wyse vermaning van ’n ouer broer of suster geminag? As jy al die gevolge van so ’n minagting moes verduur, is jy nie alleen nie.

Een van die grootste hulpmiddels waaroor ons as gelowiges in Christus beskik, is ons familie – volwasse mans en vroue wat God en mekaar liefhet en wat geestelik, as gevolg van ’n gemeenskaplike geloof in Hom, verwant is. Soos die jonger broer in ons buurt, het ons moontlik ’n woord van vermaning of teregwysing nodig om ons op die regte spoor terug te plaas. Dit is veral waar wanneer ons iemand aanstoot gee of deur iemand te na gekom word. Dan is dit soms moeilik om die regte ding te doen. Maar Jesus se woorde in Matteus 18:15–20 leer ons wat om te doen wanneer oortredings binne die geestelike familie voorkom.

Ons is dankbaar vir die mense wat ons genadige hemelse Vader oor ons pad stuur wat ons help om Hom en ander te eer. As ons dan luister gaan dit beter in die familie. “As [jou broer] na jou luister, het jy [hom] teruggewen” (vs. 15).