Omdat ek versot is op donker sjokolade het ek die vraag “Is donker sjokokade goed vir jou?” ge-Google. ’n Verskeidenheid antwoorde het gevolg – party goed, ander nie. Mens kan dieselfde ten opsigte van enige ander produk doen – is melk goed vir jou, is koffie goed vir jou, is rys goed vir jou – en ’n magdom antwoorde ontvang. Daarom is dit nodig om te besef dat die soeke na antwoorde op sigself dalk nadelig vir jou kan wees. Dit mag jou dalk ’n kopseer gee!

Maar as jy op soek is na iets wat altyd eenhonderd persent goed is vir jou, kan ek die Woord van God sterk aanbeveel. Luister net wat dit vir ’n volgeling van Jesus, wat graag ’n verhouding met God najaag, kan doen.

Dit kan jou suiwer jou (Psalm 119:9, 11).

Dit seën jou (Lukas 11:28).

Dit maak jou verstandig (Matteus 7:24).

Dit bring lig en insig (Psalm 119:130).

Dit help jou om geestelik te groei (1 Petrus 2:2).

Ons God is goed. Psalm 145:9 sê: “Die Here is vir almal goed.” In Sy goedheid het Hy’n Handleiding aan hulle wat Hom liefhet voorsien om hulle in hulle verhouding met Hom te help groei. Ons lewe in ’n wêreld vol keuses en ons moet gedurig besluite neem. Loof God vir Sy Woord waardeur Hy ons lei. Kom ons sê saam met die Psalmdigter: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond” (Psalm 119:103).